Onderwysdepartement wil nog veranderinge aan die geskiedeniskurrikulum maak

Mari Oosthuizen

Die geskiedeniskurrikulum in Suid-Afrikaanse skole kán ‘n reuse verandering ondergaan indien die Departement van Basiese Onderwys sy sin kry.

Die departement se planne om die geskiedeniskurrikulum meer Afrika-gesentreerd te maak het reeds groot reaksie vanuit verskeie oorde ontlok.

Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube het die voorgestelde wysigings aan die kurrikulum vir Graad 4- tot Graad 12 leerlinge in die Staatskoerant gepubliseer en dit nou vir openbare deelname oopgemaak.

Die voorgestelde kurrikulum sal verpligtend wees en poog daarin om Suid-Afrikaanse geskiedenis van vóór 1652 vir leerlinge te leer nog voordat Jan van Riebeeck die Kaap binnegekom het.

Volgens die konsepplan sal sekere historiese figure uit die leerplanne verwyder word. Matriekleerlinge sal byvoorbeeld nie meer hoef te leer van Internasionale burgerleiers soos, Martin Luther King nie.

Laer grade sal, indien die kurrikulum-verandering goedgekeur word, nie meer hoef te leer van die Anglo Boereoorlog of die Franse Revolusie nie. Volgens die voorstel in die Staatskoerant sal hierdie inligting vervang word met die geskiedenis van Afrika-ryke, ondermeer die Ryk van Mali.

Volgens die departement fokus die geskiedeniskurrikulum van voor 1994 op die ervarings en uitkyke van wit mans en is dit nie geskoei op Afrika kennis nie.

Die hoof van ontwikkeling by Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), Melanie Buys sê die vorige en huidige geskiedeniskurrikulum is nie noodwendig gebalanseerd nie, maar dat die voorgestelde kurrikulum-verandering nou nog meer Afrikaner geskiedenis uitsluit.

Buys sê die veranderinge het tot gevolg dat al hoe minder Afrikaanse leerlinge geskiedenis as ‘n vak wil neem.

Wat is jou opinie oor die Afrika-gesentreerde voorgestelde kurrikulumverandering aan skoolgeskiedenis? Laat weet ons per WhatsApp stemnota by 072 641 7080 of per epos: ateljee@luisterhierna.co.za

 

Foto verskaf deur Trans Africa Self Drive Adventures and Tours