“Sy sing nou saam met die Engele in die Hemelkoor.”
Die wêreld beroemde operasangeres, Mimi Coertse is op Maandag, 27 April 2026 in die ouderdom van 93 in haar huis in Pretoria oorlede.
Coertse se vriendin en versorger, Lizet du Plessis, het bevestig dat sy net voor 21:00 Maandagaand in haar slaap oorlede is.
Mimi is op 12 Junie, 1932 in Durban, KwaZulu-Natal gebore en het aan die gesogte skool, Helpmekaar College in Johannesburg gematrikuleer. Sy het in 1949 begin om sanglesse te neem by Aimee Parkerson in Johannesburg.
In 1951, in die ouderdom van 19, tree sy vir die eerste keer voor ‘n gehoor op saam met die ontslape sanger, Gé Korsten. In 1953 neem haar operaloopbaan ‘n volgende stap toe sy ‘n vaste betrekking by die Weense Staatsoperahuis kry. In dieselfde jaar trou sy met die omroeper, Dawid Engela, maar die huwelik eindig vier jaar later in 1957.
Sy was veral bekend vir haar rol in Mozart se Towerfluit – ‘n rol wat sy meer as 500 keer vertolk het.
In 1966 is sy deur die president van Oostenryk met die titel van Kammersängerin vereer vir tien jaar se hoofrolle in die Weense Staatsoperahuis. In 1965 trou sy met die Italiaanse sakeman, Diego Brighi, ‘n huwelik wat tot 1969 duur. In 1970 trou sy met die Suid-Afrikaanse sakeman, Werner Ackerman. Dié huwelik duur tot 1994.
Sy keer in 1973 terug na Suid-Afrika waar sy gereeld optree. Sy het ook ‘n gereelde omroeper en aanbieder op radio en televisie geword. Sy het in Desember 1978 vlugtig teruggekeer na die Weense Staatsoperahuis vir haar vaarwel-optrede as Elisabetta in Don Carlo.
Coertse het ook jong Suid-Afrikaanse sangers bygestaan met ondersteuning en opleiding deur middel van die Mimi Coertse Beurs.
Sy laat haar twee aangenome kinders Mia en Werner en kleinkinders agter.
Luister Hierna betuig hiermee ons innige simpatie aan haar familie, vriende en kollegas.
Foto verskaf deur Arts and Culture Trust
