Magda Louw wen groot by SAFTAS

Mari Oosthuizen

Die immergewilde Suid-Afrikaanse Film en Televisie-toekennings, die SAFTAS het vroeër die week vir die 19de keer plaasgevind.

Die toekenningsaand is by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand aangebied.

Desiree Gardener, Hannes van Wyk en alle rolspelers in die Magda Louw-komediereeks, wat reeds vir drie seisoene op KykNet te sien was, het met ‘n magdom pryse weggestap en kan die span trots wees.

Gardener, wat die reeks vervaardig en skryf vertolk die rol van die middeljarige Magda Louw. Sy bly saam met haar man, Erhard (Hannes van Wyk) by hulle dogter (Cindy Strydom) en die se verloofde. Louw se eerlikheid en kwinkslae maak die reeks uiters gewild met kykers wat dele van hulleself of familielede daarin sien.

Desiree is aangewys as die beste draaiboekskrywer in ‘n TV-komediereeks. Sy is ook as die beste regisseur, en beste aktrise in ‘n komedie-reeks aangewys. Hannes van Wyk het met die toekenning as beste akteur weggestap, al is hy in die reeks maar ‘n man van min woorde.

Erik Holm, veral bekend vir sy rol as Riaan Malherbe in Binnelanders is aangewys as die mees uitmuntende persoon met ‘n gestremdheid. Holm is sedert 2010 in ‘n rolstoel nadat hy in ‘n dam geduik en sy nek gebreek het.

Die bekende aktualiteitsprogram, Carte Blanche het met die louere weggestap as die beste program in die aktualiteitskategorie. Na byna 38 jaar op die kassie, bring Carte Blanche steeds elke Sondagaand om 19:00 die beste indiepte ondersoeke na jou kassie.

Die dramatiese dokumentêr, School Ties deur Idea Candy is aangewys as die beste tv-dokumentêr. Dit volg sake van die beweerde seksuele misbruik van kinders deur afrigters van sekere sportsoorte in gesogte skole regoor die land. Dit kom veral in waterpolo voor.

Michelle Botes wat in Desember 2024 aan kanker oorlede is, het ‘n toekenning postuum gewen as die beste byspeler in ‘n TV-drama vir haar rol as Abigail in Tuiskoms.

Ander toekennings vir Afrikaanse programme op KykNet:

Beste realiteitsprogram Plaasjapie

Beste leefstylprogram  Elders: Ligtoringroete

Beste klerekas in ‘n TV drama  Niggies (Mariechen Vosloo)

Beste oorspronklike musiek in ‘n TV drama Niggies (Pierre-Henri Wicomb)

Beste grimering en haarstilering in ‘n TV sepie  Skemergrond (Waldemar van Rensburg)

Beste prestasie in kunsreggisering in ‘n sepie Suidooster (Beatrix van Zyl)

Beste draaiboekskrywer in ‘n TV-sepie – Suidooster (Pieter Francois en Retief Scholtz)

Beste akteur in ‘n TV-drama – Frank Opperman (Nêrens Noord-Kaap. Deel 2)

Beste byspeler in ‘n TV-komedie – Tobie Cronjé (Pronk Primêr)

Beste byspeler in ‘n film – June von Merch (Die Kwiksilwers/ The Quicksilvers)

Luister Hierna dra graag hiermee ons gelukwense aan al die wenners oor.

Foto verskaf deur IMDb