Die minister van finansies, Enoch Godongwana het gister, slegs enkele ure voor die aanpassing in April se brandstofpryse, aangekondig dat die brandstofheffing tydelik met R3 per liter verminder word.
Die huidige konflik in die Midde-Ooste plaas reuse druk op wêreldwye energiemarkte, wat binnelandse brandstofpryse die hoogte laat inskiet.
Dié konflik in Iran en omliggende lande het mense reeds die afgelope paar weke na die vulstasies laat opruk weens paniek dat daar nie genoeg brandstof is om tenke te vul nie. Daar was ook ‘n groot opwagting gemaak oor April se brandstofprys wat om middernag op 1 April in werking getree het.
Die Nasionale Tesourie en die departement van minerale- en petroleumhulpbronne het saam gekyk na moontlike planne om tydelike verligting aan verbruikers te probeer bring. Weens die verlaging in die brandstofheffing was die styging in pryse laer as wat talle ekonome voorspel het.
Die brandstofprysaanpassings vir April lyk as volg:
- Beide 93- en 95 grade – Styg met R3,06 per liter
- Diesel (0,05%) – Styg met R7,37 per liter
- Diesel (0,005%) – Styg met R7,51 per liter
- Paraffien (kleinhandel) – Styg met R15,60 per liter
- Maksimum kleinhandelprys vir gas – Styg met R1,08 per kilogram
Terwyl motoriste ‘n tydelike sug van verligting kan slaak, meen die bekende ekonoom, Dawie Roodt dat dit volgens hom nie ‘n goeie idee was om die brandstofheffing met R3 te verlaag nie.
Hy het aan Maroela Media gesê dat die aanpassing volgens hom neerkom op goedkoop politiek. Volgens Roodt gaan daar gevolglik ‘n toename in ander belasting moet wees, of die staat sal minder geld moet spandeer, of die staat sal meer geld moet leen.
Roodt hou vol dat die land se fiskale rekening eenvoudig nie die verlaging in die brandstofheffing kan bekostig nie.
Intussen wil dit ook voorkom asof talle vulstasies in die land se petrolpompe reeds leeg is. Die Business Tech berig dat talle motoriste tot Dinsdag gewag het om hulle karre te vul, maar moes omdraai nadat hulle gehoor het dat daar nie brandstof beskikbaar is nie.
Ons wil graag van jou hoor: Waar woon jy en kon jy nog petrol by jou gekose vulstasie kry?
Grafika verskaf deur Luister Hierna
