Jongman trap matriekvakansie met sy fiets deur ten bate van kinders met kanker

Mari Oosthuizen

Terwyl die matriekgroep van 2025 waarskynlik saam met vriende met matriekvakansie was of uitgerus het na ‘n lang eindeksamen, het ‘n Pretoriase tiener fietsgetrap om geld in te samel vir kinders met kanker.

Andru van Zyl het verlede jaar sy skoolloopbaan aan die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria met ‘n 85%-gemiddeld geslaag en het vroeër vanjaar sy studies in Medies aan die Universiteit van Pretoria begin. Hy was ook Affies se hoofseun.

Dit is duidelik dat die jongman ‘n hart vir mense het. Hy het in Desember 2025 die media aan die gons gehad toe hy vanaf Polokwane, Limpopo tot in Kaapstad fietsgery het, alles ten bate van kinders met kanker.

Andru het op 16 Desember 2025 in Polokwane op sy pa se 20 jaar oue Surly Karate Monkey-fiets weggetrek en die sowat 2 500-kilometer op teer en grondpaaie op 22 Januarie vanjaar in Kaapstad voltooi. Hy het tot dusver meer as R600 000 ingesamel.

Hy was op 13 Januarie naby Nature’s Valley op sy fiets toe sy 15-jarige broer, Janco hom met die nuus bel dat hy sy matriek met ses onderskeidings geslaag het.

Hy het destyds vertel dat hy vroeër ‘n skoolmaat, Mandré de Jager in die hospitaal gaan besoek het, wat met ‘n sarkoom in sy femur gediagnoseer is. Volgens hom het die gange van die pediatriese onkologie-eenheid ‘n blywende indruk op hom gelaat en het hy besef dat hy geroep is om ‘n verskil in mense se lewens te probeer maak.

Andru het vroeër in ‘n berig aan Maroela Media gesê dat mense uit verskillende gemeenskappe vir hom maaltye en slaapplek aangebied het en dat hulle vriendelikheid en goedgesindheid hom laat besef het dat dié rit oor soveel meer gaan as net homself. Volgens hom is dit nooit te vroeg of te laat om iets aan te pak wat ‘n verskil in ander mense se lewens gaan maak nie. Hy het slegs enkele dae ná sy eindeksamen die rit aangepak.

Volgens ‘n berig op die Universiteit van Pretoria se webblad, was dit vir Andru maklik om deur te druk wanneer die rit moeilik en lank geraak het weens die doel waarvoor hy getrap het.

Hy het langs die pad kennis gemaak met kinders wat kanker oorwin. Volgens hom het hierdie onmoetings die rit vir hom nog meer die moeite werd gemaak.

Andru het aanvanklik gemik om R100 000 in te samel vir Choc (Childhood Cancer Foundation), maar het slegs binne ‘n enkele paar dae meer as R500 000 ingesamel. Hy het daardie mikpunt intussen na R750 000 verhoog.

 

 

Foto verskaf deur CHOC, Childhood Cancer Foundation South Africa

Andru van Zyl
Andru van Zyl