Hulde gebring aan die geliefde Boytjie, Johnny Davids na sy skielike dood

Mari Oosthuizen

Huldeblyke stroom steeds in na die skielike dood van die sanger, TV-aanbieder, kommentator, en motiveringspreker Johnny Davids na sy skielike dood op 16 April.

Davids sou op 29 Mei vanjaar 49 jaar oud geword het. Hy is in 1977 in Narraville in Namibië gebore, waar hy by sy ouma grootgeword het. Sy ma het hom in sy kleintyd drie keer probeer vermoor en wou niks met hom te doen gehad het nie.

Op 10 jaar oud kon hy vlug nadat sy ouma hom weer wou aanrand. Hy is ook deur sy ouma se vriend, Pietie-Boy aangerand. Davids het in vorige onderhoude vertel dat hy nie skoolskoene gehad het nie en dat sy skooltas ‘n plastieksak was. Na hy ontsnap het, het hy by sy pa se suster in Walvisbaai opgeëindig.

Sy familie sal mettertyd meer inligting oor sy dood bekend maak, maar hy is waarskynlik aan ‘n hartaanval oorlede.

Hy het in 2024 sy eerste boek, ‘n outobiografie, Boytjie gepubliseer, waarin hy skryf van sy moeilike kinderjare.

Hy was ook te sien op TV-programme soos Kwêla en Bravo waar hy vir baie jare ‘n aanbieder was. Sy talente was egter nie beperk nie, en het hy selfs by radio ‘n draai gemaak as aanbieder van sportprogramme op RSG.

Hy is in 2003 die eerste keer op mense se TV-skerms gesien toe hy en sy sangmaat, Vivian Molauly, die KykNet sangkompetisie, Zing gewen het. Hulle weergawe van Klein Karoo is immers gewild.

Hy was ook ‘n veldaanbieder op Via se program, Landbouweekliks. Die kanaalhoof van VIA, Azelia Morkel het in ‘n verklaring Johnny as ‘n uitsonderlike mens met ‘n besondere verhaal van oorwinning en hoop beskryf.

“Sy passie vir mense het hom ‘n welkom gesig op ons kanaal gemaak.”

Die voorsitter van die Kaapse Forum, TV-aanbieder en vriend, Heindrich Wyngaard het Johnny se dood as ‘n skok beskryf. Hy sê die twee mans het mekaar belowe dat hulle ‘n lang gesprek oor Davids se boek sou hê en die inhoud daarvan, maar dat hulle nooit daarby uitgekom het nie.

 Hy het ook sedert 2012 vir SuperSport gewerk en krieketondersteuners sou hom tydens Januarie se SA20 krieketreeks as Afrikaanse kommentator hoor. Die bekende radio-man en rugby kommentator, Hennie Koortzen het op sy Facebook-blad geskryf dat hy Johnny altyd sal onthou vir sy aansteeklike lag en goeie humorsin.

“Hy was ‘n uitgesproke kind van God en sy lewenswyse en musiek het daarvan getuig. Hy was ‘n ware gesinsman en het altyd met trots van sy vrou, Liezel, en sy kinders gepraat en sy liefde vir hulle het uitgestaan.”

‘n Gedenkdiens is die afgelope Woensdagoggend (22 April 2026) vir hom in Durbanville gehou. Hy laat sy vrou, Liezel en drie seuns agter.

Foto verskaf deur Facebook

Johnny Davids en sy vrou, Liezel.
Johnny Davids en sy vrou, Liezel.