Vandag in die geskiedenis: 9 April 1960

Mari Oosthuizen

HF Verwoerd oorleef in 1960 die eerste aanslag op sy lewe

Vandag 66 jaar gelede op 9 April 1960 moes geskokte toeskouers toekyk hoe daar vir die eerste keer ‘n aanslag op die destydse eerste minister, dr HF Verwoerd se lewe was.

Hy is deur ‘n ontevrede boer, David Pratt, by die bekende Randse Paasskou in Milner Park, Johannesburg twee keer met ‘n .22-pistool in die gesig geskiet.

Volgens destydse berigte het een koeël sy oor en die ander koeël sy wang en verhemelte getref. Hy het egter dié sluipmoordpoging oorleef. Dit sou egter nie die laaste poging op sy lewe wees nie.

Verwoerd is op 8 September 1901 in Nederland gebore, maar die gesin het twee jaar later na Suid-Afrika geëmigreer. In 1913 verhuis die gesin weer na Zimbabwe, wat destyds as Rhodesië bekendgestaan het, sodat sy pa, Wilhelm Johannes Verwoerd sendingwerk kon doen.

In 1917 verhuis die Verwoerd-gesin weer, die keer terug na Suid-Afrika en die Oranje-Vrystaat waar hulle, hulleself gevestig het.

Weens die griepepidemie kon Verwoerd eers in Februarie 1919, pleks van in Desember die vorige jaar, sy matriekeksamen aflê. Hy het die eerste plek in die Vrystaat en die vyfde plek in Suid-Afrika behaal.

Na die voltooiing van sy skoolloopbaan het hy by die Universiteit van Stellenbosch begin studeer, eers met die doel om ‘n predikant te word, maar hy het later van rigting verander en sielkunde en filosofie studeer. Hy het hier ‘n doktorsgraad verower.

Danksy ‘n studiebeurs kon hy in 1925 na Duitsland vertrek om aan die Universiteite van Leipzig, Hamburg en Berlyn te studeer. Na sy terugkeer na Suid-Afrika het hy in 1937 die redakteur van die Nasionale Party se nuwe koerant, Die Transvaler geword.

Die Transvaalse NP wen in 1948 ‘n onverwagte aantal setels en maak so ‘n wesenlike bydrae tot die NP se naelskraapse oorwinning. Verwoerd, eers ‘n senator, dien van 1950 tot 1958 as minister van naturellesake onder die premiers DF Malan en JG Strijdom.

Ná Strijdom se dood in 1958 volg Verwoerd hom op en word die sesde premier van die Unie van Suid-Afrika.

Ses jaar ná die eerste poging is daar weer ‘n poging om Verwoerd te vermoor. Hierdie keer was die skuldige egter suksesvol. Verwoerd is op 6 September 1966 in sy sitplek in die Volksraad deur Demetrios Tsafendas met ‘n dolk doodgesteek. Tsafendas was gekleë in ‘n parlementêre bode se uniform.

Hy is met sy aankoms by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad dood verklaar. Die bloedbevlekte tapyt waar Verwoerd na sy moord gelê het, het in die Parlement gebly totdat dit in 2004 verwyder is.

Hy is op 10 September 1966 tydens ‘n Staatsbegrafnis by die Uniegebou in Pretoria ter ruste gelê. Hy is begrawe in die Heldeakker-begraafplaas in in Pretoria.

 

 

Foto verskaf deur The Heritage Portal