Dulcie van den Bergh – drama loop in die familie

Mari Oosthuizen

Tant Stienie, ook bekend as die aktrise Dulcie van den Bergh is op 23 Augustus 1928 as Magdeld Magdalena Smit in Bloemfontein gebore.

Sy is op 8 November 1997 in die ouderdom van 69 oorlede na ‘n lang stryd met kolon- en lewerkanker.

Sy het in Bloemfontein, Winburg en Ladybrand grootgeword en was vir ‘n groot gedeelte van haar skoolloopbaan in die Oranje Meisieskool in Bloemfontein. Sy het in 1946 in Winburg gematrikuleer.

Dulcie het aan verskeie toneelstukke deelgeneem tydens haar skoolloopbaan, maar omdat dit in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog was, was daar nie geld vir haar om te studeer nie. Sy kon, luidens ‘n plasing op Maroela Media se e-naslaangids, Weet, wel later daarin slaag om dramaklasse by Anna Richter-Visser aan die destydse Universiteitskollege van die Oranje Vrystaat (UKOVS) te neem.

Haar eerste professionele drama geleentheid het gekom toe Oom Breytie (P.P.B. Breytenbach) van die Nasionale Toneelorganisasie haar genooi het om saam met hom aan die toneelstuk, Die Vrek deel te neem. Dit is tydens die toneelstuk wat sy haar medeakteur, Gert van den Bergh ontmoet het, wat ook later haar man geword het.

Haar liefde vir die verhoog en silwerdoek is oorgedra aan onder meer haar bekende seun, die rolprentregisseur, draaiboekskrywer en akteur, Regardt van den Bergh.

Gert is reeds in 1968 oorlede, toe hy net 47 jaar oud was. Die egpaar het drie ander kinders saam gehad, Linda, Liesl en Dirk, wat op 15 jarige ouderdom in ‘n motorongeluk oorlede is.

Behalwe vir die ikoniese rol as Stienie Steyn in die 1989 TV-reeks, Agter elke Man, het sy ook die skreeusnaakse rol van Ouma Gouws vertolk in Orkney Snork Nie. As die ma van Maggie (Annette Engelbrecht) het sy gereeld moeilikheid gemaak deur haar neus in die Van Tonder-gesin se sake te druk.

Sy het in verskeie rolprente gespeel, insluitend Die Ruiter in die Nag (1963), waarin Gert ook ‘n rol vertolk het, Farewell Johnny (1970), Ongewenste Vreemdeling in 1974 waarin haar seun Regardt ook te sien was.

Wie sal die Van Tonder-gesin in Orkney Snork nie, Die Movie (1992) se rooi, bypassende sweetpakke kan vergeet waarin ouma Gouws by ‘n vulstasie agtergelaat is toe Hendrik (Zack du Plessis) gedink het sy slaap agter in die karavaan. Die waaghalsige ouma Gouws kon daarin slaag om saam met ‘n jong man op ‘n motorfiets die gesin in te haal, tot Maggie se vernedering.

Dulcie was nie net op die skerm of verhoog te sien nie, maar was ook ‘n bekende stem op Springbok Radio waar sy in vervolgverhale gespeel het. Later het sy begin om die radioprogram, Hospitaaltyd aan te bied – ‘n program wat vir dekades lank ‘n groot deel van haar lewe sou wees. In die program het sy boodskappe uitgesaai vir mense wat siek was in ‘n poging om hulle op te beur.

Dulcie se talente in die vermaaklikheidsbedryf het ook Regardt se dogters, haar kleindogters bereik. Lika Berning het die hoofkarakters vertolk in onder andere Liefling, en French Toast. Regardt se ander dogter, Leán van den Bergh het ‘n rol vertolk in haar pa se rolprent, Tornado and the Kalahari Horse Whisperer.

 

Foto - Dulcie van den Bergh as tant Stienie (Dulcie1)- verskaf deur Sing in Afrikaans.Facebook

Dulcie van den Bergh as tant Stienie
Dulcie van den Bergh as tant Stienie