Hoor jy die naam Danie Smuts, sal almal dalk nie dadelik weet na wie jy verwys nie, veral as daar nie ‘n foto saamkom nie.
Sê jy egter vir mense jy verwys na “oom Hans” van die gewilde TV-reeks, Orkney Snork Nie, sal baie meer mense miskien die kloutjie by die oor bring.
Smuts is op 1 Januarie 1925 gebore en is in 2003, slegs drie weke na sy vrou, Bea in die ouderdom van 78 oorlede.
Behalwe vir die stuitige oom Hans, “wat nie sjampanje kon drink nie omdat die borrels hom sou laat poep,” was Danie ook ‘n bekende en geliefde radio-omroeper, veral op die destydse Springbok Radio.
Smuts was ook te sien in die 1985-rolprent, Bosveldhotel, die moevie, Daar kom Tant Alie in 1976, Somer in 1975 en in 1956 vertolk hy die rol van generaal Smuts in die rolprent,Paul Kruger.
In 1989 het hy saam met Penguinbooks ‘n boek, Boererate gepubliseer. Die boek is in 2015 heruitgegee nadat honderde mense na die internet gestroom het opsoek na ‘n kopie van dié boek.
In die boek gee Smuts ‘n versameling van boererate vir mediese kwale, en hoewel daar ‘n paar is wat ons almal ken, is daar ook ‘n paar skreeusnaakse rate met vreemde rituele wat dalk die oë effens sal laat rek.
Een van die vreemde rate in dié boek is in 2015 op Maroela Media gepubliseer.
Om griep te bekamp:
- Plaas ‘n bottel whiskey en ‘n glas met ‘n brandende kers langs jou bed.
- Klim in die bed, maak seker jy is onder baie komberse en begin rustig aan die whiskey teug.
- Sodra jy twee kerse begin sien, sit die glas neer, plaas die prop terug op die whiskey-bottel, blaas altwee kerse dood en gaan slaap.
‘n Waarskuwing vergesel die raat: Dat die griep binne 24 uur sal verdwyn is gewaarborg, maar jy mag dalk die griep vir ‘n hoofpyn verruil.
Die ATKV se Outeniqua-tak het in 2011 ‘n brons, borspeeld van Danie aan die ATKV se hooftak se kunsversameling geskenk. Die beeld is in Oktober 1989 in opdrag van die bestuur van die destydse Grondboontjiefees van Schweiser-Reneke deur Jo Roos gemaak.
Foto verskaf deur Namibiana Buchdepot
