Akteur, wat 14 jaar gelede sy eie lewe neem, sou vanjaar 40 jaar oud word

Mari Oosthuizen

Die Suid-Afrikaanse akteur, veral bekend vir sy komediese rolle, Andrew Thompson sou vanjaar sy 40ste verjaarsdag vier.

Thompson se liggaam is egter op 9 Maart 2012 deur sy vriendin in sy woonstel in Randburg gevind. Hy het homself in die ouderdom van 26 gehang. Die polisie het destyds gesê dat geen selfmoordbrief by hom gevind is nie, maar dat die nadoodse ondersoek bevestig het dat hy sy eie lewe geneem het.

Een van Thompson se gewildste rolle was as Fanie “Skêr” Vorster in die komedie rolprent, Bakgat. Ivan Botha, Cherie van der Merwe en Altus Theart was almal in dié fliek te sien.

In 2004 matrikuleer hy aan die Hoërskool Linden in Johannesburg. In 2006 begin hy sy studies in BA Drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT).

Alhoewel hy sy loopbaan in die komedie genre begin het, was van sy laaste rolle ernstiger van aard. In 2011 vertolk hy die rol van Hein in Roepman. Roepman is ‘n boek deur Jan van Tonder oor ‘n spoorweggemeenskap in die 1960’s soos vertel deur die oë van Timus (Paul Loots), ‘n 11-jarige seun.

‘n Onwaarskynlike held, Joon (John Henry Opperman), verskyn telkemale tot die redding van Timus. Thompson se karakter, Hein, is ‘n ouer seun wat Timus probeer lok en seksueel teister.

In 2013 is Thompson vir die laaste keer op die groot skerm te sien met die vrystelling van die dramatiese rolprent, Verraaiers. Thompson, wat Henry Ahrens vertolk het, het toe reeds sy eie lewe geneem.

Verraaiers speel in die tyd af van die Tweede Vryheidsoorglog en vertel die storie van boere, hulle gesinne en werkers in hierdie tyd. Thompson het die veteraan akteur, Gys de Villiers se skoonseun vertolk.

Lizz Meiring, wat saam met hom in die reeks, Molly en Wors te sien was, het kort na sy dood gesê dat sy dood ‘n reuse leemte in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf laat en dat sy loopbaan nooit vir hom oor roem gegaan het nie, maar dat hy gedrewe was om “iets mooi en spesiaal” te skep.

Andrew was voorwaar ‘n akteur van formaat en word gemis.

 

Fotos verskaf deur Maroela Media

Andrew Thompson