Kuns en Kultuur

Akteur, wat 14 jaar gelede sy eie lewe neem, sou vanjaar 40 jaar oud word

Mari Oosthuizen

Die Suid-Afrikaanse akteur, veral bekend vir sy komediese rolle, Andrew Thompson sou vanjaar sy 40ste verjaarsdag vier.

Thompson se liggaam is egter op 9 Maart 2012 deur sy vriendin in sy woonstel in Randburg gevind. Hy het homself in die ouderdom van 26 gehang. Die polisie het destyds gesê dat geen selfmoordbrief by hom gevind is nie, maar dat die nadoodse ondersoek bevestig het dat hy sy eie lewe geneem het.

Een van Thompson se gewildste rolle was as Fanie “Skêr” Vorster in die komedie rolprent, Bakgat. Ivan Botha, Cherie van der Merwe en Altus Theart was almal in dié fliek te sien.

In 2004 matrikuleer hy aan die Hoërskool Linden in Johannesburg. In 2006 begin hy sy studies in BA Drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT).

Alhoewel hy sy loopbaan in die komedie genre begin het, was van sy laaste rolle ernstiger van aard. In 2011 vertolk hy die rol van Hein in Roepman. Roepman is ‘n boek deur Jan van Tonder oor ‘n spoorweggemeenskap in die 1960’s soos vertel deur die oë van Timus (Paul Loots), ‘n 11-jarige seun.

‘n Onwaarskynlike held, Joon (John Henry Opperman), verskyn telkemale tot die redding van Timus. Thompson se karakter, Hein, is ‘n ouer seun wat Timus probeer lok en seksueel teister.

In 2013 is Thompson vir die laaste keer op die groot skerm te sien met die vrystelling van die dramatiese rolprent, Verraaiers. Thompson, wat Henry Ahrens vertolk het, het toe reeds sy eie lewe geneem.

Verraaiers speel in die tyd af van die Tweede Vryheidsoorglog en vertel die storie van boere, hulle gesinne en werkers in hierdie tyd. Thompson het die veteraan akteur, Gys de Villiers se skoonseun vertolk.

Lizz Meiring, wat saam met hom in die reeks, Molly en Wors te sien was, het kort na sy dood gesê dat sy dood ‘n reuse leemte in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf laat en dat sy loopbaan nooit vir hom oor roem gegaan het nie, maar dat hy gedrewe was om “iets mooi en spesiaal” te skep.

Andrew was voorwaar ‘n akteur van formaat en word gemis.

 

Fotos verskaf deur Maroela Media

Andrew Thompson

Hierdie week in die geskiedenis – 23 April – YouTube is 21 jaar oud

Mari Oosthuizen

Die heel eerste video op YouTube is 21 jaar gelede, op 23 April 2005 op dié videoplatform gedeel.

Die medestigter van YouTube, Jawed Karim het homself by die San Diego Zoo in Amerika voor twee olifante afgeneem en dit opgelaai. Dié video van 19 sekondes lank, getiteld Me at the Zoo is al meer as 388 miljoen keer gekyk.

Karim het YouTube in Februarie 2005 saam met sy voormalige PayPal kollegas, Chad Hurley en Steve Chan begin. Reeds in November van dieselfde jaar is ‘n video opgelaai wat meer as 1 miljoen keer gekyk is. Dit was ‘n Nike advertensie waarin die Brasiliaanse sokkerspeler, Ronaldinho te sien was.

Google het YouTube in November 2006 vir $1,65 miljard gekoop om dit deel van sy toepassingsaanbieding te maak.

Sedert daardie eerste, kort video opgelaai is, het YouTube met rasse skrede gegroei. Wie sal ooit die Suid-Koreaanse sanger, Psy se Gangnam Style video van 2012 kan vergeet? Dié video is die eerste video wat oor ‘n miljard keer gekyk is.

Vra enige ouer watter kinderliedjie hulle die mure uitgedryf het, en die antwoord sal waarskynlik Pinkfong se Baby Shark wees. Dansky kinders se fasinasie met die liedjie kon die video in Januarie 2022 die eerste video word wat 10 miljard keer gekyk is.

Dit is steeds die video met die meeste kyke nog. Teen 2026 is dit meer as 16 miljard keer gekyk.

Teen 2019 is meer as 500 uur se inhoud elke minuut op die platform gelaai. YouTube se jaarlikse inkomste word op sowat $15 miljard beraam.

Gedurende die 21 jaar van YouTube se bestaan was daar talle mense wat daarin kon slaag om miljoene rand te maak danksy die sosiale media platform.

Jimmy Donaldson of Mr Beast soos hy op YouTube bekend staan, is tans die rykste YouTube ster in die wêreld met meer as $500 miljoen se jaarlikse inkomste danksy videos van sy uitdagings en reuse pryse wat daarmee saamgaan.

Video verskaf deur YouTube

Vandag in die geskiedenis: 9 April 1960

Mari Oosthuizen

HF Verwoerd oorleef in 1960 die eerste aanslag op sy lewe

Vandag 66 jaar gelede op 9 April 1960 moes geskokte toeskouers toekyk hoe daar vir die eerste keer ‘n aanslag op die destydse eerste minister, dr HF Verwoerd se lewe was.

Hy is deur ‘n ontevrede boer, David Pratt, by die bekende Randse Paasskou in Milner Park, Johannesburg twee keer met ‘n .22-pistool in die gesig geskiet.

Volgens destydse berigte het een koeël sy oor en die ander koeël sy wang en verhemelte getref. Hy het egter dié sluipmoordpoging oorleef. Dit sou egter nie die laaste poging op sy lewe wees nie.

Verwoerd is op 8 September 1901 in Nederland gebore, maar die gesin het twee jaar later na Suid-Afrika geëmigreer. In 1913 verhuis die gesin weer na Zimbabwe, wat destyds as Rhodesië bekendgestaan het, sodat sy pa, Wilhelm Johannes Verwoerd sendingwerk kon doen.

In 1917 verhuis die Verwoerd-gesin weer, die keer terug na Suid-Afrika en die Oranje-Vrystaat waar hulle, hulleself gevestig het.

Weens die griepepidemie kon Verwoerd eers in Februarie 1919, pleks van in Desember die vorige jaar, sy matriekeksamen aflê. Hy het die eerste plek in die Vrystaat en die vyfde plek in Suid-Afrika behaal.

Na die voltooiing van sy skoolloopbaan het hy by die Universiteit van Stellenbosch begin studeer, eers met die doel om ‘n predikant te word, maar hy het later van rigting verander en sielkunde en filosofie studeer. Hy het hier ‘n doktorsgraad verower.

Danksy ‘n studiebeurs kon hy in 1925 na Duitsland vertrek om aan die Universiteite van Leipzig, Hamburg en Berlyn te studeer. Na sy terugkeer na Suid-Afrika het hy in 1937 die redakteur van die Nasionale Party se nuwe koerant, Die Transvaler geword.

Die Transvaalse NP wen in 1948 ‘n onverwagte aantal setels en maak so ‘n wesenlike bydrae tot die NP se naelskraapse oorwinning. Verwoerd, eers ‘n senator, dien van 1950 tot 1958 as minister van naturellesake onder die premiers DF Malan en JG Strijdom.

Ná Strijdom se dood in 1958 volg Verwoerd hom op en word die sesde premier van die Unie van Suid-Afrika.

Ses jaar ná die eerste poging is daar weer ‘n poging om Verwoerd te vermoor. Hierdie keer was die skuldige egter suksesvol. Verwoerd is op 6 September 1966 in sy sitplek in die Volksraad deur Demetrios Tsafendas met ‘n dolk doodgesteek. Tsafendas was gekleë in ‘n parlementêre bode se uniform.

Hy is met sy aankoms by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad dood verklaar. Die bloedbevlekte tapyt waar Verwoerd na sy moord gelê het, het in die Parlement gebly totdat dit in 2004 verwyder is.

Hy is op 10 September 1966 tydens ‘n Staatsbegrafnis by die Uniegebou in Pretoria ter ruste gelê. Hy is begrawe in die Heldeakker-begraafplaas in in Pretoria.

 

 

Foto verskaf deur The Heritage Portal

Dulcie van den Bergh – drama loop in die familie

Mari Oosthuizen

Tant Stienie, ook bekend as die aktrise Dulcie van den Bergh is op 23 Augustus 1928 as Magdeld Magdalena Smit in Bloemfontein gebore.

Sy is op 8 November 1997 in die ouderdom van 69 oorlede na ‘n lang stryd met kolon- en lewerkanker.

Sy het in Bloemfontein, Winburg en Ladybrand grootgeword en was vir ‘n groot gedeelte van haar skoolloopbaan in die Oranje Meisieskool in Bloemfontein. Sy het in 1946 in Winburg gematrikuleer.

Dulcie het aan verskeie toneelstukke deelgeneem tydens haar skoolloopbaan, maar omdat dit in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog was, was daar nie geld vir haar om te studeer nie. Sy kon, luidens ‘n plasing op Maroela Media se e-naslaangids, Weet, wel later daarin slaag om dramaklasse by Anna Richter-Visser aan die destydse Universiteitskollege van die Oranje Vrystaat (UKOVS) te neem.

Haar eerste professionele drama geleentheid het gekom toe Oom Breytie (P.P.B. Breytenbach) van die Nasionale Toneelorganisasie haar genooi het om saam met hom aan die toneelstuk, Die Vrek deel te neem. Dit is tydens die toneelstuk wat sy haar medeakteur, Gert van den Bergh ontmoet het, wat ook later haar man geword het.

Haar liefde vir die verhoog en silwerdoek is oorgedra aan onder meer haar bekende seun, die rolprentregisseur, draaiboekskrywer en akteur, Regardt van den Bergh.

Gert is reeds in 1968 oorlede, toe hy net 47 jaar oud was. Die egpaar het drie ander kinders saam gehad, Linda, Liesl en Dirk, wat op 15 jarige ouderdom in ‘n motorongeluk oorlede is.

Behalwe vir die ikoniese rol as Stienie Steyn in die 1989 TV-reeks, Agter elke Man, het sy ook die skreeusnaakse rol van Ouma Gouws vertolk in Orkney Snork Nie. As die ma van Maggie (Annette Engelbrecht) het sy gereeld moeilikheid gemaak deur haar neus in die Van Tonder-gesin se sake te druk.

Sy het in verskeie rolprente gespeel, insluitend Die Ruiter in die Nag (1963), waarin Gert ook ‘n rol vertolk het, Farewell Johnny (1970), Ongewenste Vreemdeling in 1974 waarin haar seun Regardt ook te sien was.

Wie sal die Van Tonder-gesin in Orkney Snork nie, Die Movie (1992) se rooi, bypassende sweetpakke kan vergeet waarin ouma Gouws by ‘n vulstasie agtergelaat is toe Hendrik (Zack du Plessis) gedink het sy slaap agter in die karavaan. Die waaghalsige ouma Gouws kon daarin slaag om saam met ‘n jong man op ‘n motorfiets die gesin in te haal, tot Maggie se vernedering.

Dulcie was nie net op die skerm of verhoog te sien nie, maar was ook ‘n bekende stem op Springbok Radio waar sy in vervolgverhale gespeel het. Later het sy begin om die radioprogram, Hospitaaltyd aan te bied – ‘n program wat vir dekades lank ‘n groot deel van haar lewe sou wees. In die program het sy boodskappe uitgesaai vir mense wat siek was in ‘n poging om hulle op te beur.

Dulcie se talente in die vermaaklikheidsbedryf het ook Regardt se dogters, haar kleindogters bereik. Lika Berning het die hoofkarakters vertolk in onder andere Liefling, en French Toast. Regardt se ander dogter, Leán van den Bergh het ‘n rol vertolk in haar pa se rolprent, Tornado and the Kalahari Horse Whisperer.

 

Foto - Dulcie van den Bergh as tant Stienie (Dulcie1)- verskaf deur Sing in Afrikaans.Facebook

Dulcie van den Bergh as tant Stienie
Dulcie van den Bergh as tant Stienie

Danie Smuts: Radio-, TV-, en boererate-man

Mari Oosthuizen

Hoor jy die naam Danie Smuts, sal almal dalk nie dadelik weet na wie jy verwys nie, veral as daar nie ‘n foto saamkom nie.

Sê jy egter vir mense jy verwys na “oom Hans” van die gewilde TV-reeks, Orkney Snork Nie, sal baie meer mense miskien die kloutjie by die oor bring.

Smuts is op 1 Januarie 1925 gebore en is in 2003, slegs drie weke na sy vrou, Bea in die ouderdom van 78 oorlede.

Behalwe vir die stuitige oom Hans, “wat nie sjampanje kon drink nie omdat die borrels hom sou laat poep,” was Danie ook ‘n bekende en geliefde radio-omroeper, veral op die destydse Springbok Radio.

Smuts was ook te sien in die 1985-rolprent, Bosveldhotel, die moevie, Daar kom Tant Alie in 1976, Somer in 1975 en in 1956 vertolk hy die rol van generaal Smuts in die rolprent,Paul Kruger.

In 1989 het hy saam met Penguinbooks ‘n boek, Boererate gepubliseer. Die boek is in 2015 heruitgegee nadat honderde mense na die internet gestroom het opsoek na ‘n kopie van dié boek.

In die boek gee Smuts ‘n versameling van boererate vir mediese kwale, en hoewel daar ‘n paar is wat ons almal ken, is daar ook ‘n paar skreeusnaakse rate met vreemde rituele wat dalk die oë effens sal laat rek.

Een van die vreemde rate in dié boek is in 2015 op Maroela Media gepubliseer.

Om griep te bekamp:

  1. Plaas ‘n bottel whiskey en ‘n glas met ‘n brandende kers langs jou bed.
  2. Klim in die bed, maak seker jy is onder baie komberse en begin rustig aan die whiskey teug.
  3. Sodra jy twee kerse begin sien, sit die glas neer, plaas die prop terug op die whiskey-bottel, blaas altwee kerse dood en gaan slaap.

‘n Waarskuwing vergesel die raat: Dat die griep binne 24 uur sal verdwyn is gewaarborg, maar jy mag dalk die griep vir ‘n hoofpyn verruil.

Die ATKV se Outeniqua-tak het in 2011 ‘n brons, borspeeld van Danie aan die ATKV se hooftak se kunsversameling geskenk. Die beeld is in Oktober 1989 in opdrag van die bestuur van die destydse Grondboontjiefees van Schweiser-Reneke deur Jo Roos gemaak.

Foto verskaf deur Namibiana Buchdepot

Wena Naudé ‘n aktrise van formaat en pionier

Wena Naudé word beskryf as ‘n aktrise van formaat en word ook beskou as een van die pioniers in die Afrikaanse toneelkuns.

Sy het in haar loopbaan as aktrise in meer as dertig Suid-Afrikaanse rolprente gespeel waarvan die bekendste sekerlik in die  sewentigerjare was en vandag nog gestroom kan word. Van hierdie films sluit in: Die troudag van tant Ralie (1975), Ma skryf   Matriek (1975) asook Daar kom Tant Alie (1976). Volgens bronne het sy ook in elf toneelstukke gespeel waaronder Huistoe, Die Heks asook Op Hoop van Seën en vele ander.

n 1954 het sy die Erepenning vir Toneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Sy is op 31   Desember 1905 in Wakkerstroom gebore en het skoolgegaan op Volksrust en Lydenburg.

Wena Naudé sal onthou word vir haar uitmuntende talent en haar werk sal vir ewig onthou word. Sy het gereeld mense op die   ou groot skerms van inryteaters laat skater van die lag en ook ernstige rolle puik vertolk.

Sy is in Pretoria oorlede op 6 September 1978.

Foto: Verskaf deur AJ Opperman, Facebook, soos verskaf deur Alwena van der Westhuizen

Foto verskaf deur AJ Opperman Facebook 06 September 2020 (Soos verrskaf deur Alwena van der Westhuizen)