Die man, sinoniem met natuurprogramme, Sir David Attenborough vier vandag (8 Mei 2026) sy 100ste verjaarsdag.
Hy is op 8 Mei 1926 in Isleworth, Middlesex in Engeland gebore. Hy en sy twee broers, een jonger as hy, John en een ouer as hy, Richard, het saam met hulle ouers in universiteitsbehuising op die kampus van University College Leicester gewoon, waar hulle pa, Frederick die hoof was.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Attenborough-gesin as deel van die Refugee Children’s Movement, twee Joodse dogtertjies van Duitsland gehuisves.
Sir David Attenborough se liefde vir die natuur het reeds as jong kind begin toe hy fossiele en stene begin insamel het. In 1945 ontvang hy ‘n beurs van die Clare College in Cambridge om geologie en dierkunde te studeer.
In 1947 word hy opgeroep om by die Britse Vloot aan te sluit, waar hy vir twee jaar diens gedoen het in Noord Wallis. Na sy terugkeer van die vloot werk hy tydelik as redakteur van wetenskaplike kinderboeke by ‘n uitgewer. Hy was egter nie gaande oor dié werk nie en doen toe aansoek vir ‘n pos as radio regisseur by die BBC – ‘n pos wat hy nié gekry het nie.
Sy CV het wel die aandag getrek van die hoof van feitelike rapportering by die BBC, Mary Adams wat hom in 1952 vir ‘n drie maande opleidingskursus stuur. Aanvanklik wou Adams nie hê dat Attenborough op kamera moet verskyn nie omdat sy gevoel het “sy tande is groot.”
Hy het egter gewerk as regisseur van feitelike programme. Attenborough het deur dié programme bevriend geraak met die kurator van die Londen Dieretuin, Jack Lester. In 1954 vervaardig die twee die gewilde program, Zoo Quest, wat Attenborough aangebied het.
In 1957 bring hy ‘n Reis- en Verkenningseenheid by die BBC op die been sodat hy steeds Zoo Quest en ander natuurprogramme kon vervaardig en aanbied. In die 1960’s verlaat hy die BBC om sosiale antropologie te studeer.
Hy het egter nié die graad voltooi nie omdat hy ‘n pos aanvaar het as die hoof van die BBC se kanaal 2. Daar is in sy kontrak voorsiening gemaak vir sy betrokkenheid by die verfilming van natuurprogramme. In 1969 reis hy na Tanzanië waar hy ‘n program vervaardig oor olifante. In dieselfde jaar vervaardig hy ‘n drie-deel dokumentêr oor die kulturele geskiedenis van Bali in Indonesië.
Teen 1972 bedank hy by die BBC omdat hy gevoel het dat hy teveel administratiewe take het en nie by die vervaardiging van films uitkom nie. Na sy bedanking vervaardig hy die 1973-reeks, Eastwards with Attenborough, gevolg deur Life on Earth in 1979.
Attenborough se Life reeks word deur verskeie wetenskaplikes as sy deurbraak beskou en het hom gerespekteerd gemaak in die veld. Die reeks sluit titels in soos; The Living Planet, The Trials of Life, Life in the Freezer, The Private Life of Plants, The Life of Birds, The Life of Mammals en Life in the Undergrowth.
Nog bekende Attenborough reekse is Blue Planet in 2001, Planet Earth II in 2016, Dynasties in 2018 en Attenborough’s Life in Colour in 2021. Deur middel van gevorderde rekenaartegnologie kon dinosourusse “’n terugkeer maak” met 2022 se Dinosaurs: The Final Day.
Wat sy persoonlike lewe betref is Attenborough in 1950 met Jane Oriel getroud. Sy is in 1997 oorlede. Hulle het twee kinders gehad, Robert en Susan.
Teen 2013 het hy 32 ere-doktersgrade van verskeie Britse Universiteite ontvang, die meeste wat nog aan een persoon toegeken is. Hy is ook die enigste persoon in die geskiedenis wat twee keer die titel van sir deur die Britse koninklike familie ontvang het.
David Attenborough is in 1985 vir die eerste keer deur Koningin Elizabeth II tot ridder geslaan vir sy dienste aan televisie. In 2022 is hy ook deur Koning Charles vereer.
David Attenborough se indrukwekkende TV-loopbaan het in die 1950’s op swart en wit skerms begin, maar hy is ook die enigste persoon in geskiedenis wat ‘n BAFTA toekenning in al vyf formate van TV kon wen, insluitend wit-en-swart, kleur, HD (hoë defenisie), 3D en 4K.
Fotos verskaf deur IMDB en die BBC
