Die heel eerste video op YouTube is 21 jaar gelede, op 23 April 2005 op dié videoplatform gedeel.
Die medestigter van YouTube, Jawed Karim het homself by die San Diego Zoo in Amerika voor twee olifante afgeneem en dit opgelaai. Dié video van 19 sekondes lank, getiteld Me at the Zoo is al meer as 388 miljoen keer gekyk.
Karim het YouTube in Februarie 2005 saam met sy voormalige PayPal kollegas, Chad Hurley en Steve Chan begin. Reeds in November van dieselfde jaar is ‘n video opgelaai wat meer as 1 miljoen keer gekyk is. Dit was ‘n Nike advertensie waarin die Brasiliaanse sokkerspeler, Ronaldinho te sien was.
Google het YouTube in November 2006 vir $1,65 miljard gekoop om dit deel van sy toepassingsaanbieding te maak.
Sedert daardie eerste, kort video opgelaai is, het YouTube met rasse skrede gegroei. Wie sal ooit die Suid-Koreaanse sanger, Psy se Gangnam Style video van 2012 kan vergeet? Dié video is die eerste video wat oor ‘n miljard keer gekyk is.
Vra enige ouer watter kinderliedjie hulle die mure uitgedryf het, en die antwoord sal waarskynlik Pinkfong se Baby Shark wees. Dansky kinders se fasinasie met die liedjie kon die video in Januarie 2022 die eerste video word wat 10 miljard keer gekyk is.
Dit is steeds die video met die meeste kyke nog. Teen 2026 is dit meer as 16 miljard keer gekyk.
Teen 2019 is meer as 500 uur se inhoud elke minuut op die platform gelaai. YouTube se jaarlikse inkomste word op sowat $15 miljard beraam.
Gedurende die 21 jaar van YouTube se bestaan was daar talle mense wat daarin kon slaag om miljoene rand te maak danksy die sosiale media platform.
Jimmy Donaldson of Mr Beast soos hy op YouTube bekend staan, is tans die rykste YouTube ster in die wêreld met meer as $500 miljoen se jaarlikse inkomste danksy videos van sy uitdagings en reuse pryse wat daarmee saamgaan.
Video verskaf deur YouTube

